4 “Toe ek op ’n dag te hore kom van hierdie nuwe spul mense wat in Jesus glo, was ek so kwaad dat ek hulle wreed begin vervolg het. Ek het die mans en vroue wat al hierdie dinge oor Hom geglo het, laat vang en in die tronk gestop.
5 Vra maar vir die hoëpriester en al die leiers van ons volk as julle my nie glo nie. Hulle weet baie goed dat ek die waarheid praat. Immers, dit is hulle wat my skriftelike toestemming gegee het om Damaskus toe te gaan om die Christene daar te vang. My plan was om hulle dan hierheen terug te bring sodat hulle hier in Jerusalem verhoor kon word.”
6 “Toe ek naby Damaskus kom, het ’n helder lig uit die hemel in die middel van die dag skielik op my begin skyn.
7 Ek het so groot geskrik dat ek op die grond neergeval het. Ek hoor toe Iemand vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?’
8 “‘Wie is U, Here?’ het ek dadelik gevra. ‘Dit is Ek, Jesus van Nasaret! Jy is besig om My te vervolg.’
9 “Die mense wat saam met my op pad na Damaskus was, het ook die lig uit die hemel gesien. Hulle het baie bang geword. Hulle kon egter nie Jesus se stem hoor nie.
10 “Ek vra toe benoud vir Jesus: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Hy sê toe: ‘Staan dadelik op en gaan Damaskus toe. Binnekort sal iemand daar vir jou kom sê wat jy moet doen.’