6 Paulus het geweet dat ’n deel van die Joodse Raad Fariseërs was en ’n ander deel Sadduseërs. Hy sê toe vir hulle: “Vriende, weet julle, ek self is ook ’n Fariseër. Ek kom uit ’n lang tradisie van Fariseërs. Dit is juis as gevolg van my geloof as Fariseër dat die dooies eendag weer sal opstaan dat ek nou deur u verhoor word.”
7 Skaars het Paulus hierdie woorde gesê of die Fariseërs en die Sadduseërs wat op die Joodse Raad sitting gehad het, het met mekaar begin stry.
8 Die Sadduseërs het nie aan die opstanding van die dooies geglo nie; ook nie aan die bestaan van engele of geeste nie. Die Fariseërs het wel aan hulle bestaan geglo. Die vergadering het in chaos ontaard. Te midde van hierdie deurmekaarspul het ’n paar Fariseërs opgestaan en uitgeroep: “Hierdie man is onskuldig. Ons vind niks verkeerds met wat hy sê nie.
9 Dit was definitief ’n engel wat daar by Damaskus met hom gepraat het. Of dalk ’n gees van een van ons voorvaders.”Hierdie woorde het die humeure net verder laat opvlam.
10 Die lede van die Joodse Raad het naderhand so met mekaar gestry dat die Romeinse bevelvoerder vir Paulus se lewe gevrees het. Hy was bang dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy soldate beveel om hom tussen die woedende raadslede te gaan uithaal en hom terug te vat na die Romeinse kaserne toe.
11 Daardie nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie moedeloos word nie. Jy was ’n goeie getuie vir My hier in Jerusalem. Jy sal dit ook nog in Rome doen.”
12 Die volgende oggend het ’n sekere groepie Jode besluit om Paulus dood te maak. So vasbeslote was hulle om dit te doen dat hulle ’n belofte voor God afgelê het dat hulle niks sou eet of drink voordat Paulus dood was nie.