18 Toe ek daarmee klaar was, het ek teruggekom om dit aan hulle te oorhandig. Ek wou ook in die tempel ’n offer aan God bring. Daarom het ek my eers weer in die tempel laat reinig sodat ek na my verblyf in die buiteland weer rein genoeg kon wees om ’n offer te bring. Ek het dit alles sonder ’n groot bohaai gedoen. Toe ek klaar was daarmee het ’n paar Jode uit Asië my in die tempel raakgeloop. Dit is hulle wat toe ’n groot lawaai opgeskop het. Eintlik moes hulle ook hier gewees het om my voor u aan te kla.
19 Daarom moet u maar hierdie mense wat my vandag aankla, vra watter misdaad ek dan gepleeg het.
20 Hulle moet verduidelik waarom ek hier voor u teregstaan. Want ek self het nie ’n idee wat ek verkeerd gedoen het nie. Al wat hulle teen my het, is daardie een sinnetjie wat ek uitgeskree het toe ek nou die dag voor hulle Raad verskyn het.
21 Ek het vir hulle gesê: ‘Ek staan voor julle omdat ek in die opstanding van die dooies glo.’”
22 Nadat Feliks na Paulus se verdediging geluister het, het hy besluit om die saak uit te stel. Hy het meer van die Christendom af geweet as wat hy wou voorgee. Maar hy het vir tyd gespeel omdat hy nie die Jode se goedgesindheid wou verloor nie. Daarom het hy vir hulle gesê: “Wanneer Lisias, die Romeinse bevelvoerder in Jerusalem, hier opdaag en ek ook na sy kant van die saak geluister het, sal ek ’n uitspraak in hierdie saak lewer.”
23 Daarna het Feliks een van sy kapteins beveel om Paulus weer te laat opsluit. Hy het Paulus nou egter heelwat meer vryhede toegelaat en sy vriende kon hom besoek.
24 ’n Paar dae later het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal. Hulle wou hoor wat hy alles oor sy geloof in Jesus Christus te sê gehad het.