Handelinge 24:19-25 DB

19 Daarom moet u maar hierdie mense wat my vandag aankla, vra watter misdaad ek dan gepleeg het.

20 Hulle moet verduidelik waarom ek hier voor u teregstaan. Want ek self het nie ’n idee wat ek verkeerd gedoen het nie. Al wat hulle teen my het, is daardie een sinnetjie wat ek uitgeskree het toe ek nou die dag voor hulle Raad verskyn het.

21 Ek het vir hulle gesê: ‘Ek staan voor julle omdat ek in die opstanding van die dooies glo.’”

22 Nadat Feliks na Paulus se verdediging geluister het, het hy besluit om die saak uit te stel. Hy het meer van die Christendom af geweet as wat hy wou voorgee. Maar hy het vir tyd gespeel omdat hy nie die Jode se goedgesindheid wou verloor nie. Daarom het hy vir hulle gesê: “Wanneer Lisias, die Romeinse bevelvoerder in Jerusalem, hier opdaag en ek ook na sy kant van die saak geluister het, sal ek ’n uitspraak in hierdie saak lewer.”

23 Daarna het Feliks een van sy kapteins beveel om Paulus weer te laat opsluit. Hy het Paulus nou egter heelwat meer vryhede toegelaat en sy vriende kon hom besoek.

24 ’n Paar dae later het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal. Hulle wou hoor wat hy alles oor sy geloof in Jesus Christus te sê gehad het.

25 Paulus het die geleentheid gebruik om met hulle te praat oor die volgende belangrike sake: hoe om jou saak met God reg te maak; hoe om sondige begeertes onder beheer te kry, en wat alles gaan gebeur op die laaste dag wanneer God terugkom om te oordeel. Sy woorde het Feliks en Drusilla baie benoud gemaak. Daarom het Feliks hom gou na sy sel toe teruggestuur met die woorde: “Dit is vir eers genoeg. Later, as ek tyd het, sal ek jou weer laat haal. Dan kan ons verder gesels.”