10 “Ek staan op hierdie oomblik tereg voor die regbank van die Romeinse keiser,” het Paulus geantwoord. “Dit is my reg as ’n Romeinse burger. Ek het nie ’n saak met die Jode nie.
11 Ek het niks verkeerds teen hulle gedoen nie. U weet dit baie goed. As ek ’n oortreding begaan het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om my straf te dra. Dan kan u my sommer hier en nou teregstel. Maar as die Jode se beskuldigings teen my nie bewys kan word nie, het niemand die reg om my aan hulle uit te lewer om hulle ’n guns te probeer bewys nie. Nou beroep ek my op my reg om deur die keiser self verhoor te word.”
12 Festus het ’n paar oomblikke met sy raadgewers oor Paulus se woorde beraadslaag. Toe het hy kort en kragtig sy uitspraak gegee: “Op die keiser het jy jou beroep. Na die keiser toe sal jy gaan!”
13 ’n Rukkie later het koning Agrippa en sy suster Bernice Sesarea besoek om Festus amptelik te kom verwelkom.
14 Na ’n paar dae het Festus vir Agrippa van die saak teen Paulus vertel. “My voorganger, Feliks, het ’n gevangene hier in die tronk agtergelaat,” het hy gesê.
15 “Toe ek in Jerusalem was, het die godsdienstige leiers van die Jode hierdie man van baie dinge beskuldig en gevra dat ek hom skuldig moes bevind.
16 Ek het hulle geantwoord dat dit nie die manier is waarop ons Romeine te werk gaan nie. Ons lewer mense nie aan ander uit om hulle ’n guns te bewys nie. Ons maak eers seker dat die aangeklaagde ’n behoorlike kans gehad het om hom voor sy aanklaers te verdedig.