19 “Geagte koning Agrippa, niemand kan aan so ’n visioen ongehoorsaam wees nie.
20 Ek het vir die mense in Damaskus gaan vertel om tot bekering te kom. Ek het vir hulle gesê om hulle lewe aan God te gee en om so te leef dat almal kan sien dat hulle in Hom glo. Daarna het ek presies dieselfde vir die mense in Jerusalem en in Judea gaan sê. Ek het ook na mense gegaan wat nie tot die Joodse volk behoort nie en vir hulle van Jesus vertel.
21 “As gevolg van my prediking oor die hele wêreld was die Jode in Jerusalem later baie kwaad vir my. Toe ek op ’n keer in die tempel kom, het hulle my gevang en my amper doodgemaak.
22 Maar God was by my. Tot vandag toe het Hy my opgepas. Daarom kon ek aan almal wat ek raakgeloop het, klein en groot, sy wil bekendmaak. Nie ’n enkele woord wat ek ooit gesê het, is in stryd met wat die profete en Moses gesê het nie.
23 Hulle het lankal gesê dat die Messias moet kom ly. Hulle het ook gesê dat Hy uit die dood sou opstaan. Weet u, Jesus is die heel belangrikste Persoon wat nog ooit uit die dood opgestaan het. Daarom bring Hy redding vir alle mense op aarde. Hy is die lig vir almal wat in die donker leef, vir Jode en nie-Jode.”
24 Paulus se woorde het Festus baie omgekrap. Toe hy dit nie meer kon uithou nie, het hy skielik geskree: “Jy is mal, Paulus! Jou groot geleerdheid is besig om jou van jou kop af te dryf.”
25 “Met alle respek, geagte Festus,” het Paulus geantwoord, “ek is glad nie mal nie. Dit wat ek sê, is die reine waarheid.