22 Maar God was by my. Tot vandag toe het Hy my opgepas. Daarom kon ek aan almal wat ek raakgeloop het, klein en groot, sy wil bekendmaak. Nie ’n enkele woord wat ek ooit gesê het, is in stryd met wat die profete en Moses gesê het nie.
23 Hulle het lankal gesê dat die Messias moet kom ly. Hulle het ook gesê dat Hy uit die dood sou opstaan. Weet u, Jesus is die heel belangrikste Persoon wat nog ooit uit die dood opgestaan het. Daarom bring Hy redding vir alle mense op aarde. Hy is die lig vir almal wat in die donker leef, vir Jode en nie-Jode.”
24 Paulus se woorde het Festus baie omgekrap. Toe hy dit nie meer kon uithou nie, het hy skielik geskree: “Jy is mal, Paulus! Jou groot geleerdheid is besig om jou van jou kop af te dryf.”
25 “Met alle respek, geagte Festus,” het Paulus geantwoord, “ek is glad nie mal nie. Dit wat ek sê, is die reine waarheid.
26 Enige mens wat mooi luister na wat ek sê, kan dit verstaan. Vra maar vir koning Agrippa. Hy weet ook van al die dinge waaroor ek praat. En hy begryp dit ook. Niks van hierdie dinge het op die een of ander verlate plekkie afgespeel nie.”
27 Paulus vra toe vinnig vir Agrippa: “En wat van u, koning Agrippa, glo u wat die profete sê? Wag, u hoef nie eens te antwoord nie. Ek weet dat u glo.”
28 “As jy so aanhou, maak jy my sommer netnou ’n Christen,” het Agrippa geantwoord.