16 Mense uit ander stede het ook in groot getalle met hulle siekes en duiwelbesetenes na Jerusalem gestroom. Hulle almal is genees.
17 Die Joodse Raad kon nie anders as om van die wonderwerke van die apostels kennis te neem nie. Dit het hulle baie jaloers gemaak. Daarom het die hoëpriester en die ander godsdienstige leiers op ’n dag besluit om hulle te laat vang.
18 Kort daarna is die apostels gevang en in die tronk gestop.
19 Maar ’n engel van die Here het dieselfde nag nog die tronk se deure kom oopsluit. Die engel sê toe vir hulle: “Moenie mismoedig word nie.
20 Gaan weer na die tempel toe en vertel daar vir almal dat Jesus ’n mens se lewe nuut maak.”
21 Die apostels het so gemaak. Vroeg die volgende môre het hulle weer na die tempel toe gegaan en met die mense oor Jesus begin praat. Intussen het die hoëpriester en sy handlangers die Joodse Raad byeengeroep.
22 Hulle stuur toe ’n klompie soldate na die tronk om die apostels te gaan haal. Daar kon hulle die apostels nêrens opspoor nie. Hulle het teruggehardloop na die Joodse Raad en vir hulle gesê: