20 Gaan weer na die tempel toe en vertel daar vir almal dat Jesus ’n mens se lewe nuut maak.”
21 Die apostels het so gemaak. Vroeg die volgende môre het hulle weer na die tempel toe gegaan en met die mense oor Jesus begin praat. Intussen het die hoëpriester en sy handlangers die Joodse Raad byeengeroep.
22 Hulle stuur toe ’n klompie soldate na die tronk om die apostels te gaan haal. Daar kon hulle die apostels nêrens opspoor nie. Hulle het teruggehardloop na die Joodse Raad en vir hulle gesê:
23 “Toe ons daar by die tronk kom, was die deure gesluit en al die wagte op hulle pos. Maar binnekant kon ons geen spoor van daardie klomp mans vind nie. Hulle is skoonveld.”Almal was dronkgeslaan daaroor.
24 Die hoof van die tempelpolisie kon glad nie verduidelik hoe so iets kon gebeur nie. Die priesters het net hulle koppe verbaas geskud.
25 Terwyl almal nog wonder wat aan die gang was, kom iemand daar aan en sê vir hulle: “Kom kyk! Die mans wat julle gister in die tronk gegooi het, is al weer in die tempel besig om die mense te leer.”
26 Dadelik is die hoof van die tempelpolisie en van sy manne soontoe om die apostels weer te vang. Maar dié keer het hulle die apostels baie ordentlik behandel. Hulle was bang dat die mense by die tempel hulle onder die klippe sou steek as hulle die apostels hardhandig daar wegvat.