24 Die hoof van die tempelpolisie kon glad nie verduidelik hoe so iets kon gebeur nie. Die priesters het net hulle koppe verbaas geskud.
25 Terwyl almal nog wonder wat aan die gang was, kom iemand daar aan en sê vir hulle: “Kom kyk! Die mans wat julle gister in die tronk gegooi het, is al weer in die tempel besig om die mense te leer.”
26 Dadelik is die hoof van die tempelpolisie en van sy manne soontoe om die apostels weer te vang. Maar dié keer het hulle die apostels baie ordentlik behandel. Hulle was bang dat die mense by die tempel hulle onder die klippe sou steek as hulle die apostels hardhandig daar wegvat.
27 Die apostels is na die Joodse Raad gebring. Die hoëpriester het gesê:
28 “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in daardie man se naam met die mense te praat nie? Maar julle steur julle nie aan ons nie. Nou lê die hele Jerusalem vol van julle skewe leringe. Boonop beskuldig julle ons daarvan dat ons hierdie man doodgemaak het.”
29 Petrus en die ander apostels het dadelik geantwoord: “Ons moet in die eerste plek aan God gehoorsaam wees, nie aan mense nie.
30 “Dit is Hy, die God van ons voorvaders, wat vir Jesus weer lewendig gemaak het nadat julle Hom doodgemaak het. Het julle dan al klaar vergeet hoe julle Hom nou die dag aan ’n hout opgehang het?