3 Petrus het egter dwarsdeur hom gesien. “Hoekom het jy toegelaat dat Satan ’n houvas op jou kry?” het hy vir Ananias gevra. “Jy het vir die Heilige Gees gelieg deur ’n deel van die geld vir jouself te hou terwyl jy gemaak het asof jy alles aan ons kom gee het.
4 Dit is tog jou grond. Toe jy dit verkoop het, kon jy met die wins gemaak het net wat jy wou. Hoekom was jy so skelm? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God self.”
5 Na Petrus hierdie woorde gesê het, het Ananias daar op die plek dood inmekaargesak.
6 ’n Klomp jongmans het hom kom toedraai en weggedra om begrawe te word. Hierdie nuus het gou onder die mense versprei. Hulle het toe baie bang geword vir God.
7 Sowat drie ure later het Saffira daar opgedaag, salig onbewus van wat met haar man gebeur het.
8 Toe Petrus haar sien, vra hy haar: “Het julle dié bedrag vir julle grond gekry?” “Ja,” antwoord sy. “Presies net soveel soos jy gesê het.”
9 Haar leuen het Petrus baie omgekrap. “Hoekom het jy en jou man agteraf teen die Heilige Gees gekonkel?” vra hy haar. “Het julle regtig gedink dat julle hieroor ongestraf sou bly? Daar by die ingang staan die jongmans wat jou man nou net gaan begrawe het. Hulle gaan jou ook dood hier uitdra.”