8 Toe Petrus haar sien, vra hy haar: “Het julle dié bedrag vir julle grond gekry?” “Ja,” antwoord sy. “Presies net soveel soos jy gesê het.”
9 Haar leuen het Petrus baie omgekrap. “Hoekom het jy en jou man agteraf teen die Heilige Gees gekonkel?” vra hy haar. “Het julle regtig gedink dat julle hieroor ongestraf sou bly? Daar by die ingang staan die jongmans wat jou man nou net gaan begrawe het. Hulle gaan jou ook dood hier uitdra.”
10 Net daar het Saffira reg voor Petrus inmekaargesak. Sy was op die plek dood. Die jongmans het haar uitgedra en by haar man gaan begrawe. Hierdie gebeurtenis het die hele gemeente met groot ontsag vir God vervul.
11 Ander mense buite die gemeente wat daarvan gehoor het, het ook baie bang geword vir Hom.
12 Die apostels het intussen voortgegaan om die een groot wonderwerk na die ander te doen. Die gemeente het gereeld by die Pilaargang van Salomo in die tempel bymekaargekom.
13 Ander mense het raakgesien dat hulle baie vir mekaar omgee en dat hulle groot eerbied vir God het. Dit het hulle baie beïndruk. Tog was die ander mense bang om daar by die tempel by hulle aan te sluit. Hulle was bang vir die reaksie van die godsdienstige leiers.
14 Die Here het egter met sy genade in die stad bly werk sodat groot getalle mans en vroue buite die mure van die tempel tot bekering gekom het.