1 “Wat het jy hierop te sê?” het die hoëpriester vir Stefanus gevra.
2 “Vriende, hooggeagte raadslede, luister asseblief baie mooi,” het Stefanus geantwoord. “Ek wil graag met julle oor God praat. Aan Hom kom al die eer toe. Hy is die Heilige wat Hom aan Abraham kom bekendmaak het toe hy nog daar in Mesopotamië gebly het. Dit het gebeur nog voor Abraham na Haran getrek het.
3 God het vir hom gesê: ‘Jy moet uit jou land trek. Vat al jou familielede saam met jou. Ek sal jou wys na watter land toe jy moet gaan.’
4 “Abraham het toe padgegee uit die land van die Galdeërs en in Haran gaan bly. Na sy pa se dood het God hom laat trek na hierdie land waar julle nou bly.
5 “Toe Abraham hier aangekom het, het hy nie die land op ’n skinkbord gekry nie. Aan die begin het hy nie eens ’n stuk grond of ’n kind gehad nie.
6 Tog het God hom belowe dat sy nageslag eendag hierdie hele land sou bewoon. “Hy het bygevoeg dat hulle eers sowat 400 jaar lank in ’n vreemde land sou bly. Daar sou hulle geen eie grond hê nie. Hulle sou as slawe werk en deur ander mense mishandel word.