16 Die liggame is na Sigem in Kanaän geneem. Daar is hulle begrawe in ’n graf wat Abraham vroeër vir ’n groot klomp geld van die seuns van Hemor gekoop het.”
17 “Die 400 jaar van swaarkry het nou einde se kant toe begin staan. Die tyd dat God sy volk sou bevry, was voor die deur, soos Hy aan Abraham beloof het. Teen daardie tyd het daar sommer al ’n groot groep van ons voorouers in Egipte gebly.
18 ’n Nuwe koning het intussen die leisels in Egipte oorgeneem. Hy het nie vir Josef geken nie. Hy was ’n wrede heerser wat ons mense sleg behandel het.
19 Hy het hulle selfs verplig om hulle pasgebore babatjies op die ashope te gaan weggooi. Op dié manier wou hy keer dat hulle getalle nog groter word.
20 “In daardie tyd is Moses gebore. En wat ’n mooi baba was hy nie! Sy pa en ma het hom drie maande lank in hulle huis weggesteek en versorg.
21 Maar uiteindelik moes hulle ook van hom afstand doen. Hulle het hom toe in ’n mandjie in die Nylrivier gaan sit. Gelukkig het die dogter van die farao hom in die Nyl gekry en hom toe soos haar eie seun grootgemaak.
22 Moses is streng volgens die Egiptiese gebruike grootgemaak. Hy het die beste onderrig ontvang wat daar in Egipte te kry was. Hy was baie slim en het uitgeblink as iemand wat sy kop en sy hande goed kon gebruik.