30 “Veertig jaar later, terwyl Moses in die woestyn by die berg Sinai was, het ’n engel van die Here in ’n brandende doringbos aan hom verskyn.
31 Moses kon sy oë nie glo toe hy dit sien nie. Hy het nader gestap om mooi te sien wat aangaan. Toe praat die Here skielik uit die brandende bos:
32 ‘Ek is die God van jou voorvaders. Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Toe Moses dit hoor, het hy geskrik en sy oë styf toegeknyp. Hy was te bang om na God te kyk.
33 Die Here sê toe vir hom: ‘Betoon respek vir My! Trek jou skoene uit, want jy staan op heilige grond. Jy is in die teenwoordigheid van die lewende God!
34 “‘Ek weet van al die lyding wat my mense in Egipte moet verduur. Ek hoor hoe hulle My smeek dat Ek hulle moet bevry. Daarom het Ek besluit om hulle uit daardie land weg te vat. Jy is die man wat dit vir My moet gaan doen. Maak jou gereed! Want Ek wil hê jy moet Egipte toe gaan.’
35 “Dieselfde Moses wat vroeër deur sy eie mense verwerp is, is nou deur God self as hulle leier en redder aangewys. Dit alles het daar by die brandende doringbos begin waar hy God se stem gehoor het.
36 “Moses het die Israeliete daarna uit Egipte weggelei. In Egipte, by die Rooisee en ook in die woestyn het hy 40 jaar lank die een groot wonderwerk na die ander gedoen.