41 “Hulle het toe vir hulle ’n afbeelding van ’n kalf gemaak en allerhande offers daarvoor gebring. Hulle was baie trots op hulle mooi handewerk. God was egter baie kwaad daaroor, maar Hy het hulle laat aangaan met hulle sondes.
42 Hy het toegelaat dat hulle elke nuwe god aanbid waarvan hulle te hore gekom het. Hulle het presies gedoen wat die Here later deur een van die profete gesê het:
43 ‘Dit is tog nie vir My dat julle daar in die woestyn allerhande offers gebring het nie. Nee, gedurende daardie 40 jaar was julle te besig om aanbiddingsplekke vir ander gode te bou. Afgode soos Molog en Refan was toe belangriker as Ek. Julle het allerhande mooi versiersels aan julle lywe gedra om daardie gode gelukkig te maak. Julle kon nie voorbly om neer te buig voor elke nuwe afgod wat julle in die hande gekry het nie. Ek gaan julle daaroor straf: Ek gaan julle tot anderkant Babilon as gevangenes laat wegvoer.’”
44 “Ons voorouers het die hele tyd daar in die woestyn ’n presiese weergawe van die heilige tent by hulle gehad wat God vroeër aan Moses op die berg Sinai gewys het.
45 “Hierdie heilige tent was ook by hulle toe Josua hulle nuwe leier geword het. In sy tyd het hy al die ongelowige volke uit Kanaän verdryf. Dié tent was nog steeds by hulle in die tyd van koning Dawid. “Dawid was die koning vir wie God baie lief was.
46 Hy het op ’n dag vir God gaan vra of hy nie ’n tempel as aanbiddingsplek vir die nageslag van Jakob kon bou nie.
47 Sy seun Salomo was egter die man op wie se skouers hierdie taak neergekom het. Hy het vir die Here ’n huis gebou.