Handelinge 7:43-49 DB

43 ‘Dit is tog nie vir My dat julle daar in die woestyn allerhande offers gebring het nie. Nee, gedurende daardie 40 jaar was julle te besig om aanbiddingsplekke vir ander gode te bou. Afgode soos Molog en Refan was toe belangriker as Ek. Julle het allerhande mooi versiersels aan julle lywe gedra om daardie gode gelukkig te maak. Julle kon nie voorbly om neer te buig voor elke nuwe afgod wat julle in die hande gekry het nie. Ek gaan julle daaroor straf: Ek gaan julle tot anderkant Babilon as gevangenes laat wegvoer.’”

44 “Ons voorouers het die hele tyd daar in die woestyn ’n presiese weergawe van die heilige tent by hulle gehad wat God vroeër aan Moses op die berg Sinai gewys het.

45 “Hierdie heilige tent was ook by hulle toe Josua hulle nuwe leier geword het. In sy tyd het hy al die ongelowige volke uit Kanaän verdryf. Dié tent was nog steeds by hulle in die tyd van koning Dawid. “Dawid was die koning vir wie God baie lief was.

46 Hy het op ’n dag vir God gaan vra of hy nie ’n tempel as aanbiddingsplek vir die nageslag van Jakob kon bou nie.

47 Sy seun Salomo was egter die man op wie se skouers hierdie taak neergekom het. Hy het vir die Here ’n huis gebou.

48 “Maar tog weet ons dat die allerhoogste God nie in geboue bly wat mense gebou het nie. Hy het dit duidelik deur een van die profete gesê:

49 ‘Die hemel is my troonsaal. Daar regeer Ek. Die aarde is slegs die rusplek vir my voete. Hoe sal julle dan ooit vir My ’n huis kan bou wat groot genoeg is? Kan julle regtig vir My ’n rusplek oprig waar Ek sal wil bly? Nee, julle kan nie. Ek het dit in elk geval klaar gedoen.