1 Nadat Rehabeam sy koningskap goed gevestig het, het hy onafhanklik begin optree. Hy het die Here se wet verwerp. Die hele Israel het dieselfde begin doen.
2 As gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan die Here het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval. Dit het gebeur in die vyfde jaar dat Rehabeam regeer het.
3 Sisak het met 1 200 strydwaens, 60 000 berede soldate en ’n ontelbare klomp voetsoldate opgetrek. Die voetsoldate was Libiërs, Sukkeërs en Kussiete.
4 Sisak het die versterkte stede van Juda maklik oorwin en toe teen Jerusalem opgetrek.
5 Semaja, die profeet, het Rehabeam en die leiers van Juda gaan opsoek. Hulle was in Jerusalem bymekaar om te besluit hoe hulle op Sisak se aanval moes reageer. Semaja het vir hulle gesê: “Hier is die Here se boodskap vir julle: ‘Julle het My in die steek gelaat; daarom laat Ek julle nou met Sisak se aanval in die steek.’”
6 Die leiers van Israel en die koning was verleë oor hulle sondes en hulle het laag voor die Here gebuig. Hulle het vir Hom gesê: “Die Here doen altyd wat reg is!”