1 Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja, ’n vrou uit Berseba.
2 Joas se optrede het die Here tevrede gestel so lank as wat Jojada gelewe het.
3 Jojada het vir Joas twee vroue uitgesoek en hulle het ’n gesin met seuns en dogters gehad.
4 ’n Ruk later het Joas besluit om die tempel van die Here op te knap.
5 Hy het die priesters en die Leviete bymekaargeroep en gesê: “Gaan na die stede en dorpe van Juda toe. Roep al die Israeliete op om hulle jaarlikse bydraes te gee sodat ons die tempel kan opknap. Maak gou! Ek beskou dit as ’n dringende saak.”Die Leviete het getalm en nie dadelik daaraan begin werk nie.
6 Joas het toe met Jojada, die hoëpriester, geraas: “Waarom het u nie gesorg dat die Leviete die tempelbelasting van die mense in Juda en Jerusalem gaan insamel nie? Moses het die belasting al in die woestyn ingestel om die tent waar die Here aanbid is te kon onderhou!”
7 Oor die jare het Atalia en haar mense die Here se tempel van sy spesiale voorwerpe beroof. Hulle het selfs die tempelbelasting gebruik om die Baäls te dien.
8 Joas het toe opdrag gegee dat hulle ’n kis moes maak. Die kis is by die ingang van die tempel neergesit.
9 Hulle het toe al die mense in Juda en Jerusalem opgeroep om hulle belasting in die kis te kom gooi. Hulle is daaraan herinner dat Moses, God se dienaar, dié belasting reeds in die woestyn van alle Israeliete geëis het.
10 Die leiers en al die mense was bly hieroor. Hulle het hulle bydraes gebring en die kis volgemaak.
11 Elke keer as die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Die staatsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester het die kis dan kom leegmaak en die geld getel. Daarna is die kis teruggevat na sy plek toe. Dit het elke dag so aangehou en ’n groot bedrag geld is uiteindelik ingesamel.
12 Koning Joas en Jojada het die geld aan die kontrakteurs uitbetaal wat aangestel is om die tempel te herstel. Die kontrakteurs het klipkappers en skrynwerkers aangestel om die herstelwerk aan die tempel te doen. Hulle het ook metaalsmede aangestel om yster- en bronsvoorwerpe vir die tempel te maak.
13 Die kontrakteurs het hulle goed van hulle taak gekwyt. Die werk het vinnig gevorder en die tempel is tot sy oorspronklike glorie herstel.
14 Toe hulle klaar was, het die kontrakteurs die geld wat oorgebly het, vir Joas en Jojada teruggebring. Dit is gebruik om ’n klomp spesiale voorwerpe vir die tempel te laat maak. Die voorwerpe is in die erediens en die offerdiens gebruik: panne en gereedskap van goud en silwer. So lank as wat Jojada die priester geleef het, is daar gereeld brandoffers in die tempel van die Here gebring.
15 Jojada het baie oud geword en is uiteindelik in die ouderdom van 130 oorlede.
16 Hy is tussen die konings in die Dawidstad begrawe, want hy het vir Israel, vir God en vir die tempel baie beteken.
17 Ná Jojada se dood het die leiers van Juda vir Joas besoek en voor hom neergebuig. Hulle het hom oortuig om van nou af húlle raad te volg.
18 Hulle het besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verwaarloos. Hulle het pale wat ter ere van die afgod Asjera opgerig is, saam met ander afgodsbeelde begin vereer. Hieroor was die Here woedend vir Juda en Jerusalem.
19 Hy het profete gestuur om vir hulle te sê om hulle tot Hom te bekeer, maar hulle wou nie luister nie.
20 Die Here se Gees het toe vir Sagaria in besit geneem. Hy was Jojada, die priester, se seun. Hy het voor die volk opgestaan en vir hulle gesê: “Hier is ’n boodskap van God spesiaal vir julle: Waarom luister julle nie na die Here se opdragte nie? Dit is tot julle eie nadeel! Julle het die Here verlaat, nou gaan Hy julle verlaat.”
21 Die leiers het toe teen Sagaria saamgesweer. Op koning Joas se bevel het hulle hom in die voorhof van die Here se tempel met klippe doodgegooi.
22 Sonder om terug te dink aan Jojada se lojaliteit aan hom, het Joas vir Sagaria, Jojada se seun, laat doodmaak. Sagaria se laaste woorde was: “Mag die Here sien wat hulle doen en hulle daarvoor straf!”
23 Teen die einde van die jaar het die Arameërs Joas aangeval. Hulle het Juda en Jerusalem ingeval en al die leiers doodgemaak. Hulle het al die goed wat hulle gevat het, na hulle koning in Damaskus teruggestuur.
24 Die Aramese leër was baie kleiner as die Judeërs s’n, maar die Here het die Arameërs gehelp. Juda het die Here, die God van hulle voorouers, verlaat. Daarom het Hy hulle die oorlog laat verloor. So is Joas gestraf vir sy sondes.
25 Toe die Arameërs terugtrek, het hulle Joas swaar gewond agtergelaat. Joas se eie amptenare het toe teen hom saamgesweer om hom terug te betaal vir Sagaria se dood. Hulle het Joas in sy bed vermoor.Joas is in die Dawidstad begrawe, maar nie in die koningsgrafte nie.
26 Sy moordenaars was Sabad, Simat die Ammoniet se seun en Josabad, Somer die Moabiet se seun.
27 Oor sy seuns, die swaar belasting wat hy aan ander konings moes betaal en sy herstelwerk aan die tempel van God, kan ’n mens meer lees in Die Kommentaar op die Koningsboek.Sy seun Amasia het hom opgevolg.