1 Die koningin van Skeba het gehoor van Salomo se goeie naam en van sy besondere wysheid. Daarop het sy besluit om Jerusalem toe te gaan om hom met moeilike vrae te toets. Sy het met ’n groot groep bediendes daar aangekom. Daar was ook ’n karavaan kamele wat gelaai was met speserye, baie goud en waardevolle edelstene. Nadat sy hom ontmoet het, het sy oor alles waaroor sy nagedink het, met hom gepraat.
2 Salomo het antwoorde op al haar vrae gehad. Niks was vir hom te ingewikkeld om te verstaan nie.
3 Salomo se wysheid en die paleis wat hy gebou het,
4 het die koningin van Skeba se asem weggeslaan. Sy was ook verstom oor die kos op die tafels, die amptenare rondom hom, die tafelbediendes en skinkers en die klere wat hulle gedra het, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here gebring het.
5 Sy het vir Salomo gesê: “Die gerugte wat ek by die huis oor u wysheid en prestasies gehoor het, is die waarheid!
6 Ek het nie geglo wat ek gehoor het nie. Maar noudat ek dit met my eie oë gesien het, besef ek dat die helfte my nooit vertel is nie! U wysheid is baie groter as wat ek ooit kon vermoed.
7 Hoe gelukkig is hierdie mense tog nie! Wat ’n voorreg is dit vir u amptenare wat elke dag na u wysheid kan luister.
8 Die Here, u God, is inderdaad baie groot! Dit is omdat u God Israel so liefhet en besluit het om hulle vir altyd in stand te hou dat Hy u hulle koning gemaak het, om regverdig te regeer.”
9 Sy het toe vir die koning omtrent vier ton goud en ’n groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nie voorheen sulke hoë kwaliteit speserye soos dié wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie.
10 (Toe Hiram en Salomo se skepe destyds goud van Ofir af gebring het, het hulle ook jenewerhout en edelstene saamgebring.
11 Die koning het die hout gebruik om trappe vir die tempel en die paleis te bou en om liere en harpe vir die musikante te maak. Sulke instrumente is nog nie voorheen in Juda gesien nie.)
12 Koning Salomo het op sy beurt vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy gevra het. Dit was selfs meer werd as die geskenke wat sy vir hom gegee het. Sy en al haar mense het toe vertrek en na haar land toe teruggekeer.
13 Salomo het elke jaar omtrent 23 ton goud ontvang.
14 Dit sluit nie eens die belasting in wat hy op die handelaars en reisigers gehef het nie. Daarby het al die Arabiese konings en die goewerneurs van gebiede ook vir Salomo goud en silwer ingebring.
15 Koning Salomo het 200 groot en 300 klein goue skilde laat maak. Vir elke groot skild het hy byna sewe kilogram goud gebruik
16 en vir elke klein skild omtrent drie en ’n half kilogram. Hy het al die skilde in die gebou, bekend as Woud van die Libanon, geplaas.
17 Verder het die koning ’n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.
18 Die troon het ses trappe gehad. Daar was ook ’n goue voetrus aan die troon vasgeheg. Weerskante van die sitplek was daar armleunings met ’n leeu aan elke kant.
19 Daar was ook twaalf leeus op die trappe, ses aan elke kant. Daar is nie nog só ’n koningstroon in ’n ander koninkryk te vind nie!
20 Al koning Salomo se drinkbekers was van goud. Dit was ook die geval met alles wat in die gebou met die naam Woud van die Libanon gebruik is. Silwer was in die tyd van Salomo so volop dat dit nie eintlik in tel was nie.
21 Die koning het destyds ’n handelsvloot gehad wat beman is deur matrose wat deur Hiram beskikbaar gestel is. Hulle het een keer elke drie jaar teruggekom en dan was hulle skepe gelaai met goud, silwer, ivoor, ape en poue.
22 Algaande het Salomo ryker en wyser geword as enige ander koning op aarde.
23 Konings van oraloor het na hom toe gekom om na die wysheid te luister wat God vir hom gegee het.
24 Elkeen wat hom besoek het, het ’n geskenk saamgebring. Die geskenke het goue en silwervoorwerpe, klere, wapens, speserye, perde en muile ingesluit.
25 Salomo het staanplekke vir 4 000 perde en strydwaens en vir 12 000 kavallerie-perde gehad. Die meeste van hulle is in die strydwa-stede gestasioneer, maar ’n klompie was naby die koning, in Jerusalem.
26 Hy was die opperheerser van al die konings van die Eufraatrivier in die noorde af tot by die land van die Filistyne en die Egiptiese grens.
27 Verder het hy silwer so gewoon soos klippe in Jerusalem laat word en sederhout so gewoon soos die hout van die wildevyebome wat so volop in die laerliggende dele van die land groei.
28 Salomo se perde is uit Egipte en verskeie ander lande ingevoer.
29 Die res van Salomo se geskiedenis, van die begin af tot die einde, is opgeskryf in die Herinneringe van Natan, die Profeet, Die Profesieë van Agija van Silo en Die Gesigte van Jedi, die Siener, wat handel oor Jerobeam, Nebat se seun.
30 Salomo het vir 40 jaar in Jerusalem oor die hele Israel regeer.
31 Toe Salomo dood is, is hy in die Stad van Dawid, sy pa, begrawe. Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg.