1 Josafat was baie ryk en belangrik. Later is sy seun met Agab, die koning van Israel, se dogter getroud.
2 ’n Paar jaar later het hy by Agab in Samaria gaan kuier. Agab het ’n groot onthaal vir hom en sy amptenare gereël. Hulle het ’n klomp skape en beeste vir die geleentheid geslag om Josafat te probeer oorhaal om Ramot in Gilead saam met Israel aan te val.
3 Agab vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my teen Ramot in Gilead gaan oorlog maak?”Josafat het gesê: “Maar natuurlik! Ons is mos familie. My soldate is tot jou beskikking.”
4 Maar Josafat het bygevoeg: “Laat ons net eers seker maak wat die Here daarvan sê.”
5 Agab het toe 400 profete bymekaar laat kom. Hy het vir hulle gevra: “Kan ons voortgaan met die plan om teen Ramot in Gilead te gaan veg, of moet ons dit los?”Hulle antwoord toe: “Gaan maar, want God sal julle laat wen.”
6 Josafat was nog nie tevrede nie. “Is hier nie nog ’n profeet by wie ons kan hoor wat die Here wil hê nie?” het hy gevra.
7 Agab het geantwoord: “Ja, hier is nog één, maar ek haat hom. Hy het nooit ’n goeie boodskap vir my nie. Hy het net altyd negatiewe dinge vir my te sê. Hy is Miga, Jimla se seun.”“Jy moet darem nie só praat nie!” sê Josafat toe. “Kom ons hoor wat hy sê.”
8 Die koning van Israel het toe ’n amptenaar gestuur en gesê: “Gaan haal dadelik vir Miga, Jimla se seun.”
9 Die twee konings het op hulle koninklike stoele op die dorsvloer net buite die ingang na Samaria gesit. Terwyl hulle daar sit en wag het met hulle koninklike klere aan, het al die profete hulle boodskappe gebring.
10 Een van die profete was Sedekia, Kenaäna se seun. Hy het vir hom ysterhorings gemaak. “Met sulke horings,” het hy gesê, “sal u die Arameërs doodmaak.”
11 Al die profete het saamgepraat en die konings aangemoedig om by Ramot in Gilead te gaan veg, “want,” het hulle gesê, “die Here sal u laat wen.”
12 Die boodskapper wat Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Luister nou ’n bietjie na my. Al die profete het vir die koning ’n oorwinning voorspel. Ek hoop net jy sal dieselfde sê en vir die koning ’n goeie boodskap gee!”
13 Miga het hom geantwoord: “Ek sal net sê wat die Here vir my sê om te sê!”
14 Toe hy by die koning kom, sê Agab vir hom: “Miga, kan ons na Ramot in Gilead toe gaan om te gaan veg, of moet ons dit los?”“Gaan gerus,” het Miga geantwoord, “dit sal goed gaan en julle sal wen.”
15 Die koning het skerp reageer: “Hoeveel keer moet ek by jou aandring om niks anders vir my te sê as wat die Here vir jou sê nie?”
16 Toe antwoord Miga hom: “In ’n visioen het ek Israel op die berge sien ronddwaal, net soos skape sonder ’n skaapwagter. Toe hoor ek die Here sê: ‘Hulle leier is dood, laat hulle in vrede huis toe gaan.’”
17 Israel se koning herinner toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy kan niks goeds vir my voorspel nie. Dis net altyd slegte nuus!”
18 Maar Miga het voortgegaan en die res van die visioen wat die Here hom laat sien het, vir hulle beskryf: “Ek het die Here op sy troon sien sit. Al die hemelwesens het weerskante voor Hom gestaan.
19 “Die Here sê toe: ‘Wie van julle sal Israel se koning, Agab, kan ompraat om Ramot in Gilead te gaan aanval, sodat hy daar kan doodgaan?’
20 “Toe kom staan daar ’n gees voor die Here en sê: ‘Ek sal hom kan ompraat.’“‘Maar hoe?’ het die Here hom gevra.
21 “Hy het geantwoord: ‘Ek sal sorg dat al sy profete vir hom lieg.’ “‘Jy kan dit maar gaan doen, want jy sal dit regkry!’ het die Here gesê.
22 “Verstaan nou mooi, geagte koning. Die Here het toegelaat dat die profete vir u lieg, want Hy beplan ’n groot ramp vir u.”
23 Toe hy dit hoor, het Sedekia op Miga afgestorm en hom in die gesig geslaan. “Hoe is die Here se Gees nogal van my af weg om met jou te gaan praat?” wou hy weet.
24 Miga het gesê: “Jy sal dit sommer gou uitvind, wanneer jy in ’n kamer moet invlug om weg te kruip!”
25 Die koning het beveel: “Vang Miga en vat hom vir Amon, die stadsbevelvoerder, en vir my seun Joas.
26 Sê vir hulle ek sê hulle moet hom in die tronk gooi. Hy moet net brood en water kry, tot ek veilig van die geveg af terugkom.”
27 Maar Miga het vir die koning gesê: “As u veilig terugkom, het die Here nooit deur my gepraat nie,” en vir die omstanders het hy gesê: “Onthou maar wat ek gesê het!”
28 Die twee konings het toe met hulle leërs na Ramot in Gilead vertrek.
29 Agab het vir Josafat gesê: “As die geveg begin, gaan ek my vermom sodat niemand my kan herken nie. Hou jy liewer jou koninklike klere aan.” Agab het hom toe vermom en toe die geveg begin, was hulle daar.
30 Die koning van Aram, teen wie hulle geveg het, het vir sy offisiere wat strydwabevelvoerders was, gesê: “Val net die koning van Israel aan, niemand anders nie!”
31 Toe hulle vir Josafat sien, het die offisiere geskree: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het hom aangeval. Josafat het egter geskree en die Here gevra om hom te red. God het toe ingegryp en die aanvallers van hom af laat padgee.
32 Die offisiere het intussen besef dat hy nie Israel se koning is nie en die agtervolging gestaak.
33 Een van die gewone Aramese soldate het sy boog gespan en ’n pyl weggeskiet sonder om na enigiets spesifieks te mik. Die pyl het vir Agab getref en tussen die plate van sy pantser ingesteek. Agab het besef wat gebeur het en vir sy strydwadrywer gesê: “Swaai om, kry my uit die geveg uit, want ek is gewond.”
34 Die geveg het egter al hoe hewiger geword en die hele dag lank aangehou. Agab het aan die kant van sy strydwa vasgehou en so regop gebly om teen die Arameërs te veg, maar teen sononder is hy dood.