1 Josia het daarna die paasfees tot die eer van die Here in Jerusalem gevier. Die paaslammers is op die veertiende dag van die eerste maand geslag.
2 Hy het die priesters se take aan hulle toegewys en hulle aangemoedig om hulle plig by die tempel van die Here te doen.
3 Hy het vir die Leviete, wat afgesonder was vir die Here en wat Israel geleer het hoe om die Here te dien, gesê: “Die ark met die ooreenkoms tussen die Here en sy volk is nou in die tempel wat Salomo gebou het. Terwyl julle dit nou nie meer heen en weer hoef te dra nie, moet julle die Here julle God en sy volk, Israel, steeds dien.
4 Meld aan vir diens volgens julle diensgroepe soos koning Dawid dit laat opskryf het en volgens Salomo se voorskrifte.
5 Gaan staan op die plekke in die heiligdom wat aan julle toegewys is. Help die mense vir wie julle verantwoordelik is, wanneer hulle hulle offers na die tempel bring.
6 Slag die paaslammers, maak julleself dan skoon en berei die offer soos dit voorgeskryf word in die Here se wet wat Hy deur Moses gegee het.”
7 Josia het vir die gewone mense wat die paasfees kom vier het skaap- en boklammers gegee om as offers te gebruik. Hy het uit sy eie kuddes 30 000 stuks kleinvee en 3 000 beeste aan die mense voorsien.
8 Sy hoë amptenare het ook vrywillig bygedra, sodat die gewone mense, die priesters en die Leviete paasfees kon vier. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel, het 2 600 stuks kleinvee en 300 beeste as paasoffers vir die priesters gegee.
9 Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het 5 000 lammers en 500 beeste as paasoffers vir die Leviete geskenk.
10 Alles was gereed vir die viering van die paasfees. Die priesters het op hulle plekke gestaan en die Leviete het in hulle afdelings aangetree soos die koning beveel het.
11 Die Leviete het die paaslammers geslag. Hulle het die bloed vir die priesters gegee, wat dit teen die altaar uitgegooi het, terwyl die Leviete die lammers afgeslag en voorberei het.
12 Hulle het die deel wat verbrand moes word, eenkant gesit om dit vir die gewone mense volgens hulle familiegroepe te gee. Hulle kon dit dan weer op die voorgeskrewe manier offer, soos die Here deur Moses beveel het. Hulle het dieselfde met die beeste gedoen.
13 Hulle het die paaslammers oor die kole gebraai soos dit voorgeskryf is en die ander gawes is in potte, ketels en panne gekook. Alles is so vinnig moontlik onder die gewone mense versprei, sodat hulle kon eet.
14 Toe dit klaar was, het die Leviete ook vir hulleself en vir die priesters kos gemaak. Dit was nodig omdat die priesters uit die Aäronfamilie tot laat in die nag nog besig was om die brandoffers en die vetstukke wat geoffer moes word, te verbrand. Dit is hoekom die Leviete vir hulleself en vir die Aäronitiese priesters die paasete voorberei het.
15 Die sangers van die Asaffamilie was op hulle pos volgens die voorskrifte van Dawid, en Asaf, Heman en Jedutun (hy is die koning se siener) was ook daar. Die poortwagte was elkeen by die poort waar hulle moes wees. Dit was nie vir hulle nodig om hulle poste te verlaat nie, want hulle ampsgenote, die Leviete, het vir hulle gesorg.
16 Al die brandoffers is op die Here se altaar verbrand, volgens die opdrag van koning Josia.
17 Die fees van die ongesuurde brood is ook saam met die paasfees sewe dae lank gevier.
18 ’n Paasfees soos dié is daar nie sedert die dae van die profeet Samuel in Israel gehou nie. Geen koning van Israel het die paasfees nog ooit so gevier soos dié een waarin Josia die priesters, die Leviete, almal van Juda en Israel én die inwoners van Jerusalem betrek het nie.
19 Dié paasfees is in Josia se agtiende regeringsjaar gehou.
20 Josia het al die werk voltooi wat hy aan die tempel wou doen. Daarna het koning Neko van Egipte met sy leër verbygetrek om by Karkemis aan die Eufraatrivier te gaan oorlog maak. Josia het besluit om sy opmars te gaan keer.
21 Neko het boodskappers met die volgende boodskap aan Josia gestuur: “Hou jou neus uit my sake uit, koning van Juda! Ek is nie hier om vandag teen jou oorlog te maak nie. Ek baklei teen ’n ander koninkryk. God het my beveel om vinnig te beweeg. Moenie inmeng met my planne nie, want God is saam met my. Hy sal jou vernietig.”
22 Josia wou egter nie na Neko luister en terugdraai nie, al was dit God self wat met Neko gepraat het. Hy het Neko in die Megiddovlakte aangeval.
23 Die boogskutters het Josia raak geskiet en hy het vir sy lyfwagte gesê: “Help my gou om hier weg te kom, want ek is swaar gewond!”
24 Sy lyfwagte het hom uit sy strydwa gehelp, hom in ’n ander een gesit en met hom Jerusalem toe gejaag.Josia is egter aan sy wonde dood. Hy is in die koninklike begraafplaas van Jerusalem begrawe. Al die mense van Juda en Israel het oor Josia se dood getreur.
25 Jeremia het ’n treurlied oor Josia geskryf. Al die sangers en sangeresse sing tot vandag toe oor Josia in hulle treurliedere. Die liedere is in ’n bundel getiteld Die Treurliedere opgeneem.
26 Die res van Josia se geskiedenis, hoe hy geleef het soos die Here se wet sê ’n mens moet leef, word alles, van die begin tot die einde, vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda.