8 Hulle sal wel vir ’n ruk sy onderdane word sodat hulle kan leer hoeveel beter dit is om My te dien in plaas van ’n aardse koning.”
9 Koning Sisak van Egipte het Jerusalem ingekom en beslag gelê op al die skatte wat in die tempel en die paleis gestoor was. Hy het ook die goue skilde gevat wat Salomo laat maak het.
10 Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die plek daarvan gemaak. Hy het dit in die sorg gelaat van die bevelvoerders van die wagte wat die tempel se ingang opgepas het.
11 Wanneer die koning tempel toe gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra. Daarna het hulle dit in die wagkamer teruggesit.
12 Omdat Rehabeam jammer was oor sy sonde, het die Here hom vergewe en nie vir hom kwaad gebly nie. Die Here het hom nie totaal vernietig nie.
13 Rehabeam het sy posisie in Juda versterk en aanhou regeer. Hy was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here onder al die stamme van Israel uitgekies het as die plek waar Hy vereer wou word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.
14 Hy was nie ’n goeie koning nie, want hy het nie gedoen wat die Here wou hê nie.