1 Abia is oorlede en hy is in die Dawidstad begrawe. Sy seun Asa het na hom koning geword. Hy het gesorg vir tien jaar van rus in die land.
2 Asa het die dinge gedoen wat vir God goed en reg was.
3 Hy het die vreemde altare en heilige plekke vir ander gode tot niet gemaak, die heilige pilare omgegooi en die stompe ter ere van die godin Asjera afgekap.
4 Hy het die mense van Juda aangemoedig om te doen wat die Here, die God van hulle voorouers, vra en om sy wette en reëls na te kom.
5 Asa het die heilige plekke en altare waarop hulle wierook vir vreemde gode gebrand het, in elke dorp van Juda vernietig. Daarom het daar vir ’n hele ruk vrede in Juda geheers.
6 Hy het ook die versterkte stede van Juda herbou terwyl die vrede wat van die Here af kom, daar geheers het.
7 Asa het sy mense opgeroep en gesê: “Laat ons die stede nou herbou terwyl dit rustig is. Ons moet mure met verdedigingstorings om die stede bou en hekke insit wat kan toegrendel. Dis nou die tyd om te bou, want ons het gedoen wat die Here wou hê; daarom het Hy vir ons vrede met al ons bure gegee.” Hulle het die bouwerk toe voorspoedig afgehandel.