7 Asa het sy mense opgeroep en gesê: “Laat ons die stede nou herbou terwyl dit rustig is. Ons moet mure met verdedigingstorings om die stede bou en hekke insit wat kan toegrendel. Dis nou die tyd om te bou, want ons het gedoen wat die Here wou hê; daarom het Hy vir ons vrede met al ons bure gegee.” Hulle het die bouwerk toe voorspoedig afgehandel.
8 Asa se leër het uit twee groepe bestaan. Daar was 300 000 man uit Juda, wat elkeen toegerus was met ’n skild en ’n spies. Dan was daar ’n verdere 280 000 man uit Benjamin, elkeen toegerus met ’n skild en pyl en boog. Hulle was uitgesoekte soldate.
9 Op ’n keer het Serag, ’n Etiopiese offisier, Juda met ’n leërmag van ’n miljoen soldate en 300 strydwaens aangeval. Hulle het tot by die stad Maresa gevorder
10 waar Asa sy soldate in die Sefatalaagte opgestel het.
11 Asa was bang en het vir die Here sy God gesê: “Here, U steur U mos nie aan getalle wanneer U iemand help nie. Help ons tog nou, o Here! Ons vertrou op U en ons veg teen hierdie skare in u Naam. Here, U is ons God. Menslike krag kan nie teen U standhou nie.”
12 Die Here het die Etiopiërs toe deur Asa en die Judese leër verslaan en die vyand het gevlug.
13 Asa en sy soldate het hulle tot by Gerar agtervolg. Soveel Etiopiërs is in die veldslag dood dat dit onmoontlik was om hulle te organiseer. Hulle is deur die Here en sy leër vernietig. Die Judese soldate het baie buit afgeneem.