6 Asa het toe vinnig ingespring. Hy het al die mense van Juda opgeroep om die bouklip en hout wat Baesa in Rama gebruik het, weg te dra. Hulle het dit toe gebruik om die dorpe Geba en Mispa op te bou.
7 In dié tyd het Hanani, die siener, met koning Asa gaan praat en vir hom gesê: “U het nou op die koning van Aram vertrou om u te help, in plaas daarvan om op die Here, u God, te vertrou. Daarom het u ’n kans om die leër van Aram te verslaan deur u vingers laat glip.
8 Onthou u met hoe ’n groot leër die mense van Kus en Libië u aangeval het? Daar was verskriklik baie strydwaens en perderuiters. Maar toe het u op die Here vertrou om te help en Hy het u laat wen.
9 Onthou net, die Here soek na mense wat Hom volkome vertrou; dan help Hy hulle. Hierdie keer was u dom! Van nou af sal u die hele tyd oorlog maak.”
10 Asa het só kwaad geword vir die siener oor wat hy gesê het dat hy hom in die tronk gegooi het. Dit was juis ook in daardie tyd dat Asa van sy mense begin onderdruk het.
11 Asa se hele geskiedenis is in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf.
12 In sy 39ste regeringsjaar het Asa ’n ernstige voetsiekte gekry. Selfs toe dit later sy lewe in gevaar gestel het, het hy steeds nie die Here nie, maar sy dokters vertrou om hom gesond te maak.