6 Maar wie kan vir Hom ’n huis bou wat by Hom pas as die hoogste hemele Hom nie eens kan huisves nie? Wie is ék nou eintlik om vir Hom ’n huis te bou, behalwe om daarin vir Hom offers te bring?
7 “Hier is nou my versoek: stuur tog vir my ’n bekwame vakman wat met metale soos goud, silwer, brons en yster kan werk en wat vaardig is met pers, rooi en blou materiaal en wat goed is met gravering. Hy sal hier saam met vakmanne uit Juda en Jerusalem werk, wat my pa destyds aangestel het.
8 Stuur ook vir my seder- en sipreshout en ander edelhoutsoorte wat daar in die Libanonberg groei. Ek weet hoe vaardig u mense is om bome op te saag. My werkers sal u s’n help
9 om ’n baie groot hoeveelheid planke voor te berei, want die huis wat ek wil bou gaan so groot wees dat mense hulle daaroor sal verwonder.
10 “Ek sal baie kos vir u werkers voorsien wat die hout moet kap. Ek sal sorg vir meer as 3 600 ton koring en net soveel gars en vir 420 kiloliter wyn en net soveel olyfolie.”
11 Koning Hiram van Tirus het die volgende antwoord vir Salomo gestuur: “Dit is omdat die Here sy volk liefhet dat Hy jou hulle koning gemaak het!
12 “Ek prys die Here, die God van Israel, wat die hemel en aarde gemaak het en wat vir Dawid so ’n wyse seun en opvolger gegee het. ’n Seun wat die insig het om vir die Here ’n tempel en vir homself ’n paleis te bou!