1 Na ’n ruk het ’n klomp Moabiete, Ammoniete en Meüniete teen Josafat oorlog kom maak.
2 Die volgende boodskap het Josafat bereik: “Daar kom ’n groot leër aan om teen u te veg. Hulle kom van Edom se kant af, anderkant die Dooie See, en het reeds by Gaseson-Tamar (oftewel En-Gedi) aangekom.”
3 Toe hy dit hoor, het Josafat geskrik en besluit om die Here te raadpleeg. Hy het beveel dat al die mense van Juda vir ’n dag lank niks mag eet nie.
4 Hulle het toe uit al die stede en dorpe van Juda bymekaargekom om die Here te vra om hulle te help.
5 Josafat het tussen al die mense van Juda en Jerusalem voor die tempel se nuwe voorhof gaan staan.
6 Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, U is die enigste God in die hemel en die Heerser oor alle koninkryke op aarde. U is sterk en magtig. Niemand kan U wen nie!
7 God, het U nie die volke wat in die land gewoon het, weggejaag toe u volk hier aangekom het nie? Het U nie toe die land vir Abraham se nageslag gegee om vir altyd hier te woon nie?