12 God, sal U hulle stop, asseblief? Ons kan niks teen so ’n oormag doen nie. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons glo dat U ons sal help.”
13 Die hele Juda, mans, vroue en kinders, het almal saam voor die Here gestaan en pleit om hulp.
14 Die Here se Gees het toe deur een van die mans in die vergadering gepraat. Sy naam was Jagasiël, ’n Leviet. Sy voorouers was Sagaria, Benaja, Jeïel en Mattanja. Hulle was lede van die familiegroep van Asaf.
15 Jagasiël het vir die vergadering gesê: “Luister na my, al julle Judeërs en inwoners van Jerusalem! U ook, koning Josafat, luister wat ek te sê het, want die boodskap kom van die Here af. Hy sê: ‘Moenie bang wees of vir die groot leër terugdeins nie. Hierdie geveg is nie júlle probleem nie. Dit is ’n saak wat God self sal uitstryk.
16 Maak reg en trek môre teen hulle uit. Hulle sal met die opdraande van Sis se kant af kom en julle sal hulle kry net daar waar die kloof oopmaak na die Jeruëlwoestyn se kant toe.
17 Julle sal nie eens hoef te veg nie! Neem net julle posisies in, dan sal julle kan sien hoe die Here die geveg vir julle wen. Inwoners van Juda en Jerusalem, die Here is aan julle kant. Moenie bang of skrikkerig wees nie. Gaan môre uit en gaan kyk self hoe die Here julle help.’”
18 Koning Josafat het met sy gesig na die grond toe neergekniel. Al die mense van Juda en Jerusalem het sy voorbeeld gevolg en die Here begin aanbid.