20 Die volgende oggend het hulle alles reggekry en na die woestyn in die omgewing van Tekoa vertrek. Terwyl hulle op pad was, het Josafat hulle gestop en gesê: “Luister na my, mense van Juda en Jerusalem. As julle in die Here julle God glo, sal julle sterk kan staan. As julle in sy boodskappers glo, sal julle sukses behaal!”
21 Daarna het hy met die leiers gesels en hulle het besluit om sangers voor die leër te laat uitloop. Die sangers moes die Here loof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
22 Net toe hulle so begin juig en sing, het die Here gesorg dat die leërs van Ammon, Moab en die mense van die Seïrberge af, wat eintlik teen Juda wou kom oorlog maak, teen mekaar begin veg.
23 Eers het die leërs van Ammon en Moab saam teen die mense van die Seïrberge geveg en hulle almal doodgemaak. Toe hulle daarmee klaar was, het hulle teen mekaar begin veg.
24 Toe die Judeërs by hulle uitkykpunt kom, het hulle in die vallei afgekyk en net ’n klomp lyke daar sien lê. Nie een van die vyand het weggekom nie.
25 Daarna het Josafat en sy leër die lyke geplunder en ’n geweldige klomp goed bymekaargemaak. Daar was klere en waardevolle voorwerpe, soveel dat hulle drie dae lank gewerk het om alles bymekaar te kry.
26 Op die vierde dag het hulle in die Lofdal bymekaargekom. Hulle het die plek só genoem omdat dit die plek is waar hulle die Here geloof het en vir Hom dankie gesê het vir wat Hy vir hulle gedoen het. Die plek word nog altyd Lofdal genoem.