5 Josafat het tussen al die mense van Juda en Jerusalem voor die tempel se nuwe voorhof gaan staan.
6 Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, U is die enigste God in die hemel en die Heerser oor alle koninkryke op aarde. U is sterk en magtig. Niemand kan U wen nie!
7 God, het U nie die volke wat in die land gewoon het, weggejaag toe u volk hier aangekom het nie? Het U nie toe die land vir Abraham se nageslag gegee om vir altyd hier te woon nie?
8 U volk het hier kom bly en hierdie tempel vir U gebou.
9 Hulle het gesê: ‘As daar eendag iets vreesliks met ons gebeur, soos ’n oorlog, ’n vloed, siekte of hongersnood, sal ons hier by die tempel bymekaarkom. Dit is waar U woon. Ons sal hier kom pleit dat U ons moet help en U sal ons hoor en ons red!’
10 Nou het die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge saamgetrek om ons aan te val. Destyds, op pad van Egipte af, het U die Israeliete verbied om hulle aan te val. Trouens, die Israeliete het om hulle getrek en hulle nie aangeval en uitgeroei nie.
11 Kyk hoe beloon hulle ons nou daarvoor! Hulle is nou hier om ons uit die land te gooi wat U vir ons as ’n geskenk gegee het.