9 Hulle het gesê: ‘As daar eendag iets vreesliks met ons gebeur, soos ’n oorlog, ’n vloed, siekte of hongersnood, sal ons hier by die tempel bymekaarkom. Dit is waar U woon. Ons sal hier kom pleit dat U ons moet help en U sal ons hoor en ons red!’
10 Nou het die mense van Ammon, Moab en die Seïrberge saamgetrek om ons aan te val. Destyds, op pad van Egipte af, het U die Israeliete verbied om hulle aan te val. Trouens, die Israeliete het om hulle getrek en hulle nie aangeval en uitgeroei nie.
11 Kyk hoe beloon hulle ons nou daarvoor! Hulle is nou hier om ons uit die land te gooi wat U vir ons as ’n geskenk gegee het.
12 God, sal U hulle stop, asseblief? Ons kan niks teen so ’n oormag doen nie. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons glo dat U ons sal help.”
13 Die hele Juda, mans, vroue en kinders, het almal saam voor die Here gestaan en pleit om hulp.
14 Die Here se Gees het toe deur een van die mans in die vergadering gepraat. Sy naam was Jagasiël, ’n Leviet. Sy voorouers was Sagaria, Benaja, Jeïel en Mattanja. Hulle was lede van die familiegroep van Asaf.
15 Jagasiël het vir die vergadering gesê: “Luister na my, al julle Judeërs en inwoners van Jerusalem! U ook, koning Josafat, luister wat ek te sê het, want die boodskap kom van die Here af. Hy sê: ‘Moenie bang wees of vir die groot leër terugdeins nie. Hierdie geveg is nie júlle probleem nie. Dit is ’n saak wat God self sal uitstryk.