11 Begin dadelik werk, my seuns! Die Here het julle gekies om vir Hom te werk. Julle moet die erediens lei en tot sy eer wierook brand.”
12 Die volgende Leviete het onmiddellik aan die werk gespring: Uit die Kehatfamilie: Magat, Amasai se seun en Joël, Asarja se seun; uit die Merarifamilie: Kis, Abdi se seun en Asarja, Jehallelel se seun; uit die Gersonfamilie: Joag, Sima se seun en Eden, Joag se seun;
13 uit die Elisafanfamilie: Simri en Jeïel; uit die Asaffamilie: Sagaria en Mattanja;
14 uit die Hemanfamilie: Jegiël en Simi; uit die Jedutungroep: Semaja en Ussiël.
15 Hulle het al die ander Leviete bymekaargemaak. Daarna het hulle hulleself skoongemaak en toe die koning se opdrag uitgevoer: hulle het die tempel presies volgens die reëls van die Here skoongemaak.
16 Die priesters het in die tempel ingegaan en alles skoongemaak. Hulle het die vuil goed uitgebring na die voorhof toe. Daar het die Leviete dit gevat en buite die stad in die Kidronvallei gaan weggooi.
17 Die skoonmaakwerk het op die eerste dag van die eerste maand begin. Binne agt dae het hulle tot by die voorhof skoongemaak. Dit het nog agt dae gevat om die tempel self skoon te maak en na sestien dae was alles klaar.