1 Hiskia het boodskappers na almal in Israel en Juda gestuur en briewe geskryf vir die mense van Efraim en Manasse om hulle uit te nooi om almal saam die paasfees ter ere van die Here, die God van Israel, by die tempel in Jerusalem te kom vier.
2 Hiskia, sy amptenare en al die belangrike mense in Jerusalem het besluit om die paasfees ’n maand later as gewoonlik te hou.
3 Dit moes so gebeur omdat hulle die fees nie op sy gewone tyd kon hou nie. Die priesters was nie gereed daarvoor nie en al die mense was nog nie in Jerusalem toe die fees moes plaasvind nie.
4 Die koning en al die mense het toe besluit om die paasfees uit te stel.
5 Hulle het toe ’n amptelike brief deur die hele Israel uitgestuur, van Berseba in die suide tot by Dan in die noorde. Daarin het hulle almal uitgenooi Jerusalem toe om die paasfees van die Here, Israel se God, te kom vier.
6 Op die koning se bevel is boodskappers deur die hele Israel en Juda gestuur met briewe wat die volgende boodskap bevat het:Israeliete! Kom terug na die Here, die God van Abraham, Isak en Israel. Dan sal Hy terugkom na ons almal wat die aanvalle van die Assiriese konings vrygespring het.