4 Die koning en al die mense het toe besluit om die paasfees uit te stel.
5 Hulle het toe ’n amptelike brief deur die hele Israel uitgestuur, van Berseba in die suide tot by Dan in die noorde. Daarin het hulle almal uitgenooi Jerusalem toe om die paasfees van die Here, Israel se God, te kom vier.
6 Op die koning se bevel is boodskappers deur die hele Israel en Juda gestuur met briewe wat die volgende boodskap bevat het:Israeliete! Kom terug na die Here, die God van Abraham, Isak en Israel. Dan sal Hy terugkom na ons almal wat die aanvalle van die Assiriese konings vrygespring het.
7 Moenie soos julle familie wees nie. Hulle was nie getrou aan die Here die God van hulle voorouers nie. Daarom het Hy hulle tot ’n bespotting gemaak onder die ander mense. Julle kan dit self sien.
8 Moenie so hardkoppig soos hulle wees nie. Aanvaar die Here se aanbod. Kom na sy tempel wat Hy vir altyd uitgekies het en kom dien die Here, julle God, sodat Hy nie vir julle kwaad bly nie.
9 As julle na die Here toe terugkom, sal die mense wat julle familie en kinders gevang het, hulle jammer kry. Hulle sal dan terugkom na hierdie land toe. Onthou, die Here julle God gee vir julle om. Hy loop oor van goedheid. As julle na Hom toe terugkom, sal Hy julle nie langer verwerp nie.
10 Die boodskappers het die brief van dorp tot dorp in Efraim en Manasse en so ver as Sebulon geneem, maar die mense het hulle uitgelag en hulle gespot.