17 Die koning het ook briewe geskryf waarin hy die Here, die God van Israel, beledig het. Hy het geskryf: “Net soos die ander volke se gode hulle nie uit my mag kon red nie, sal die God van Hiskia dit ook nie regkry nie.”
18 Die Assiriese boodskappers het hard in Hebreeus gepraat sodat almal hulle kon verstaan. Hulle doel was om die soldate op die mure te verwar en bang te maak sodat hulle Jerusalem kon inneem.
19 Hulle het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy maar net soos een van die handgemaakte gode van die ander volke was.
20 Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja, Amos se seun, ernstig gebid.
21 Die Here het ’n engel gestuur wat die hele Assiriese leër met al sy bevelvoerders en offisiere doodgemaak het. Sanherib moes vernederd na sy land toe teruggaan. Toe hy daar die tempel van sy god besoek, het van sy eie kinders hom doodgemaak.
22 So het die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem van die Assiriese koning Sanherib en van al hulle ander vyande verlos. Daar was toe vrede met almal rondom hulle.
23 Baie mense het geskenke vir die Here Jerusalem toe gebring. Daar was ook baie wat duur geskenke vir koning Hiskia gebring het.Na alles wat gebeur het, het Hiskia ’n goeie naam gehad onder die nasies.