8 Hy het net mense in sy leër, maar ons het die Here ons God aan ons kant. Hy help ons en veg saam met ons!”Die soldate het moed geskep uit koning Hiskia se woorde.
9 Koning Sanherib van Assirië was besig om Lagis met al sy magte te beleër. Van daar af het hy boodskappers na Jerusalem toe gestuur om met koning Hiskia en al die Judeërs in Jerusalem te praat. Hulle boodskap was:
10 “Luister wat sê koning Sanherib van Assirië: Waarom dink julle dat julle my aanval op Jerusalem sal kan oorleef?
11 Hiskia sê mos: ‘Die Here ons God sal ons beskerm teen die Assiriese koning!’ Hy mislei julle. Dit sal maak dat julle nog van honger en dors doodgaan.
12 Is dit nie dieselfde Hiskia wat die Here se heilige plekke en altare laat vernietig het nie? Dis mos hy wat vir die mense van Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle mag die Here net by een altaar vereer en net op die een plek wierook brand.’
13 Julle moet tog weet wat ek en my voorgangers met al die volke in die wêreld gedoen het! Was enigeen van daardie volke se gode sterk genoeg om hulle uit my kloue te red?
14 Nie een van die volke wat my voorgangers uitgeroei het, se gode was sterk genoeg om hulle te red nie. Hoe sal júlle God dit tog kan regkry?