15 Gilkija het vir Safan, die sekretaris, gesê: “Ek het die wetboek in die Here se tempel gekry!”Gilkija het toe die boekrol vir Safan gegee.
16 Safan het die boekrol dadelik na die koning gebring en verslag gedoen: “Almal vir wie u werk gegee het, is aan die gang.
17 Hulle het die geld wat in die tempel was, bymekaargemaak en vir die kontrakteurs en werkers gegee om met die werk aan te gaan.
18 Maar daar is nog iets, U Majesteit. Die priester Gilkija het dié boekrol daar gevind en vir my gegee.” Safan het dit toe vir Josia voorgelees.
19 Nadat Josia gehoor het wat in die wetboek staan, was hy so ontsteld dat hy sy klere geskeur het.
20 Hy het dadelik ’n afvaardiging saamgestel wat uit Gilkija, die priester en vier senior amptenare bestaan het. Hy het vir hulle gesê:
21 “Gaan praat namens my en die hele volk met die Here oor wat in hierdie boek staan. Ons voorouers het hulle nie gesteur aan die boek se inhoud nie. Die Here moet baie kwaad wees vir ons omdat ons nie gedoen het wat in die boek staan nie.”