18 ’n Paasfees soos dié is daar nie sedert die dae van die profeet Samuel in Israel gehou nie. Geen koning van Israel het die paasfees nog ooit so gevier soos dié een waarin Josia die priesters, die Leviete, almal van Juda en Israel én die inwoners van Jerusalem betrek het nie.
19 Dié paasfees is in Josia se agtiende regeringsjaar gehou.
20 Josia het al die werk voltooi wat hy aan die tempel wou doen. Daarna het koning Neko van Egipte met sy leër verbygetrek om by Karkemis aan die Eufraatrivier te gaan oorlog maak. Josia het besluit om sy opmars te gaan keer.
21 Neko het boodskappers met die volgende boodskap aan Josia gestuur: “Hou jou neus uit my sake uit, koning van Juda! Ek is nie hier om vandag teen jou oorlog te maak nie. Ek baklei teen ’n ander koninkryk. God het my beveel om vinnig te beweeg. Moenie inmeng met my planne nie, want God is saam met my. Hy sal jou vernietig.”
22 Josia wou egter nie na Neko luister en terugdraai nie, al was dit God self wat met Neko gepraat het. Hy het Neko in die Megiddovlakte aangeval.
23 Die boogskutters het Josia raak geskiet en hy het vir sy lyfwagte gesê: “Help my gou om hier weg te kom, want ek is swaar gewond!”
24 Sy lyfwagte het hom uit sy strydwa gehelp, hom in ’n ander een gesit en met hom Jerusalem toe gejaag.Josia is egter aan sy wonde dood. Hy is in die koninklike begraafplaas van Jerusalem begrawe. Al die mense van Juda en Israel het oor Josia se dood getreur.