17 Die Here het toe die koning van Babel gebruik om die mense van Juda te straf. Die Babiloniërs het die jongmans van Juda doodgemaak, selfs binne-in die tempel. Hulle het niemand oorgesien nie, geen jongmens nie. Nie eers die oumense is gespaar nie. Die Here het hulle almal in die hande van die koning van Babel oorgelaat.
18 Nebukadnesar het alles wat in die tempel gebruik is, vir homself gevat. Hy het ook al die skatte wat in die Here se tempel, die koning se paleis en in die hoë amptenare se besit was, vir hom gevat.
19 Daarna het hy die tempel van God aan die brand gesteek, die stadsmuur van Jerusalem afgebreek en al die deftige huise in die stad afgebrand. So is alles wat waardevol was, vernietig.
20 Nebukadnesar het die mense wat nie doodgemaak is nie, na Babel toe weggevat. Hulle moes as slawe vir hom en sy seuns gaan werk. Dit het aangehou totdat die koninkryk van Persië die Babiloniërs verslaan het.
21 Toe dit gebeur het, het ’n boodskap van die Here wat deur Jeremia oorgedra is, waar geword: “Die land het uiteindelik sy sabbatsrus geniet toe hy vir 70 jaar verlate was.”
22 In koning Kores van Persië se eerste regeringsjaar het die Here nog ’n voorspelling van Jeremia waar laat word. Die Here het Kores beweeg om ’n koninklike boodskap deur die hele land te stuur.
23 “’n Boodskap van koning Kores van Persië: Die Here, die God van die hemel, het alle koninkryke op aarde in my hande gegee. Hy het vir my die werk gegee om vir Hom ’n tempel in Jerusalem wat in Juda is, te bou. Enigiemand wat deel is van sy volk, mag teruggaan vir dié werk. Mag die Here julle God by julle wees!”