9 Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het. Hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Jojagin gedoen het nie.
10 In die lente van die volgende jaar het Nebukadnesar hom na Babel toe laat bring. ’n Klomp van die kosbare voorwerpe van die Here se tempel is toe ook na Babel toe weggevat.Nebukadnesar het Jojagin se broer Sedekia koning van Juda en Jerusalem gemaak.
11 Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer.
12 Die Here was nie tevrede met wat Sedekia gedoen het nie. Hy het geweier om na die profeet Jeremia, wat namens God gepraat het, te luister.
13 Sedekia het ook teen Nebukadnesar in opstand gekom, selfs al het hy in die Here se Naam gesweer dat hy aan Nebukadnesar getrou sou wees. Sedekia was hardkoppig. Hy het volstrek geweier om hom aan die Here, Israel se God, te onderwerp.
14 Die leiers van die priesters en die volk was ook ongehoorsaam aan die Here. Hulle het ander volke se godsdienstige gebruike aangehang en die Here se tempel onrein gemaak met al hulle sondes.
15 Die Here hulle God het keer op keer weer profete na hulle toe gestuur om hulle te waarsku, want Hy was jammer vir sy volk en vir sy tempel.