3 Almal het op die feesdag, wat in die sewende maand geval het, by die koning bymekaargekom.
4 Toe al die leiers van Israel daar bymekaar was, het die Leviete die ark opgetel.
5 Hulle het die ark en die tent waar die Here aanbid is en al die heilige voorwerpe wat by die tent gehoort het, saamgebring. Die Levitiese priesters het dit na die tempel toe opgedra.
6 Koning Salomo en die hele gemeenskap wat saam met hom voor die ark bymekaar was, het skape en beeste begin offer. Hulle het soveel diere geoffer dat ’n mens nie kon byhou om te tel nie.
7 Die priesters het toe die ark in die Allerheiligste plek in die tempel ingebring en dit onder die vlerke van die gerubs neergesit.
8 Die gerubs se vlerke was só uitgesprei dat hulle die hele ark, met draaghoute en al, bedek het.
9 Die draaghoute was so lank dat ’n mens hulle van die ingang van die Heilige vertrek af kon sien, maar nie van buite af nie. Dit is nog steeds so.