8 maar wat in die land oorgebly het, vir dwangarbeid opgeroep. Dit is vandag nog die geval.
9 Hy het egter nie dwangarbeid op die Israeliete afgedwing nie. Hy het hulle gebruik as soldate, as offisiere in die leër en as bevelvoerders en bemanning van sy strydwaens.
10 Koning Salomo het 250 van hulle aangestel as toesighouers oor sy projekte.
11 Salomo het sy vrou, wat ’n dogter van die farao was, uit die Stad van Dawid verskuif na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou moet nie in koning Dawid se paleis woon nie, want die ark van die Here was daar en daarom is dit heilig.”
12 Daarna het Salomo offers vir die Here verbrand op die altaar van die Here wat hy net buite die pilaargang voor die tempel gebou het.
13 Die offers het van dag tot dag gewissel, volgens die opdragte van Moses. Daar was ekstra offers op die sabbatte, op nuwemaansfeeste en by die drie jaarlikse feeste. Die drie was die fees van die ongesuurde brode, die fees van die weke en die huttefees.
14 Hy het ook volgens die voorskrifte van Dawid die priesters se diensbeurte per afdeling gereël. Dit is ook vir die Leviete gedoen vir hulle beurte by die lofsang, hulle hulp aan die priesters soos dit daagliks nodig was en hulle diensbeurte as wagte by elke poort van die stad. Dit was ’n opdrag van Dawid, die man van God.