Levitikus 10 DB

Aäron se seuns oortree

1 Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu, het elkeen ’n houer gevat waarin vuur rondgedra word en warm kole daarin gesit. Hulle het geurige wierook wat fyngemaal was, oor die kole gestrooi en dit toe vir die Here geoffer. Dit was egter ’n offer wat in die vuur verbrand word wat nie volgens die aanwysings was wat die Here vir hulle voorgeskryf het nie.

2 Daar het toe ’n vuur van die Here self af gekom en hulle daar voor die Here doodgebrand.

3 Moses sê toe vir Aäron: “Dit is wat die Here bedoel het toe Hy gesê het: Hulle wat vir My offer, moet onthou hoe geweldig groot Ek is. Die hele volk moet My met groot respek behandel.” Aäron het nie daarop geantwoord nie.

4 Moses het toe vir Misael en Elisafan, die twee seuns van Aäron se oom Ussiël, laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Gaan haal julle neefs se lyke daar by die tent en vat dit weg na ’n plek buite die kamp.”

5 Hulle het toe gegaan en die mans se lyke wat nog in hulle spesiale klere vir hulle dienswerk was, uit die kamp uit weggevat soos Moses gevra het hulle moet doen.

6 Moses het toe vir Aäron en sy twee seuns Eleasar en Itamar gesê: “Julle moenie treur en julle hare los laat hang en julle klere skeur nie. Julle is aan die Here se diens toegewy en Hy kan julle ook laat doodgaan as julle so maak. Hy kan selfs in woede uitbars oor almal in die kamp. Al die ander Israeliete moet egter treur oor die vuur wat die Here laat losbreek het.

7 Julle mag ook nie weggaan van die ingang van die tent van ontmoeting af nie, want julle sal miskien doodgaan. Julle is tog die Here se dienaars wat vir Hom afgesonder is.” Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het.

8 Die Here het vir Aäron beveel:

9 “Nie jy en ook nie jou seuns mag enige wyn of ander sterk drank drink wanneer julle in die tent van die Here moet gaan werk nie, want dan sal julle sterf. Dit is ’n reël wat nooit verander kan word nie.

10 Julle moet onderskei tussen die dinge wat vir die Here afgesonder is en die dinge wat net gewoon vir alledaagse gebruik is. Daar is dinge en gewoontes wat nie vir die Here aanvaarbaar is nie en ander dinge wat reg is en daarvan getuig dat julle aan die Here behoort.

11 Julle moet die Israeliete leer om alles te doen wat die Here deur Moses vir julle gesê het om te doen.”

12 Moses het vir Aäron en sy twee seuns wat nog oor was, Eleasar en Itamar, gesê: “Nadat julle die offer wat met vuur verbrand word, vir die Here gebring het, mag julle die deel van die offer uit die graan wat nie verbrand is nie, vir julleself vat om te eet. Julle moet dit sonder enige suurdeeg net daar by die altaar eet. Dit word heeltemal eenkant gehou vir die diens van die Here en vir sy dienaars wat by die tent die offer bring.

13 Julle moet dit ook net eet in ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is. Dit is jou en jou seuns se besondere deel van die offers wat vir die Here op die altaar gebring word. Dit is ook die opdrag wat die Here vir my gegee het.

14 Die bors en die boud van die offer wat vir die Here gebring is, kan jy en jou seuns en jou dogters saam met jou op enige plek eet wat vir die dienaars van God se tent en vir hulle gesinne eenkant gesit is. Dit is die deel van die offer wat Israel saam met die Here eet wat aan jou en jou seuns afgestaan word.

15 Die Israeliete moet die boud en die bors wat aan die Here opgedra word, saambring wanneer hulle die stukke vet van die offer vir die Here kom aanbied. Dit moet dan vir jou en jou seuns gegee word om te eet. Die Here het beveel dat dit ’n reëling tussen julle sal wees wat nooit kan verander nie.”

16 Moses het op ’n keer begin soek waar die bok is wat vir die offer geslag moet word. Op daardie stadium was dit egter alreeds geslag en alles op die altaar verbrand. Hy het toe in woede uitgebars teen Aäron se twee seuns wat oor was, Eleasar en Itamar, en vir hulle gesê:

17 “Hoekom het julle nie julle deel van die offer in die tent kom eet nie? Dit is mos iets wat net hier geëet mag word. Die Here het dit vir julle gegee om die skuld van die gemeenskap weg te neem en om hulle vrede te laat vind met die Here.

18 Die bloed van die offer is glad nie in die tent ingebring nie en julle het ook nie julle deel daar kom eet soos ek julle beveel het nie.”

19 Aäron het toe vir Moses gesê: “My seuns het wel vandag die offers vir die sonde en die offers wat op die altaar vir die Here gebring word, geoffer. Sou dit reg gewees het vir die Here as ek vandag my deel van die offer opgeëis het nadat al hierdie dinge met my en my mense gebeur het?”

20 Moses het sy argument gehoor en hy was tevrede dat hulle reg opgetree het om nie ook hulle deel op te eis nie.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27