1 Die Here het ook nog verder vir Moses gesê:
2 “Iemand maak ’n fout en is ontrou aan die Here wanneer hy ontken as iemand anders iets vir hom gegee het om op te pas. Hy kan ook iemand anders uitbuit en in werklikheid van hom steel.
3 Of hy tel iets op wat iemand verloor het en steek dit weg. Of hy jok oor iets wat ’n mens gedoen het en toe oortree het.
4 As dit dan gebeur dat hy op een van hierdie maniere oortree het en skuldig is, moet hy alles wat hy verkeerdelik gevat het, teruggee. Hy moet die persoon wat hy uitgebuit het, vergoed. Ook dit wat iemand vir hom gegee het om op te pas moet hy teruggee. So ook die ding wat iemand verloor het wat hy opgetel het.
5 Wanneer hy op sy oortreding gewys word, moet hy vir alles waaroor hy gelieg het, weer goed maak. Hy moet dit met ’n vyfde vermeerder vir die persoon vir wie hy dit skuld.
6 Hy moet vir sy skuld vir die Here ’n ram sonder gebrek uit sy kudde bring wat net soveel werd is as ’n offer. Daarmee sal hy sy verhouding met God herstel. Hy moet dit na die dienaar by die tent bring.
7 Die dienaar sal daarmee sy skuld by die Here betaal. Alles wat hy verkeerd gedoen het en waardeur hy skuldig geword het, sal hom dan vergewe word.”
8-9 Die Here het verder ook nog vir Moses beveel om aan Aäron en sy seuns voorskrifte te gee vir die offers wat verbrand moet word: “Dit moet heelnag in die vuur op die altaar gelos word tot die volgende oggend toe. Die vuur op die altaar moet die heeltyd bly brand.
10 Die amptenaar by die tent trek sy spesiale linnehemp en linnebroek wat daarby pas, aan. Hy vat dan die vet weg wat in die vuur uit die brandoffer uitgebraai het. Hy sit dit langs die offerplek op die grond neer.
11 Dan trek hy die spesiale klere uit en trek weer sy gewone klere aan. Hy vat die vet uit die kamp uit weg na die plek wat daarvoor eenkant gesit is buite die kamp.
12 Die vuur moet altyd op die altaar aan die brand bly. Dit mag nooit doodgaan nie. Die dienaar moet elke oggend weer nuwe hout op die vuur gooi om dit aan die brand te hou. Hy moet die offer wat verbrand word om sy verhouding met die Here te herstel bo-op die hout sit en die vet van die offer daarop uitbraai.
13 Die vuur moet altyd aan die brand bly daar op die altaar. Dit mag nooit doodgaan nie.”
14 Die aanwysings vir die graan wat vir die Here gebring word, is soos volg: “Aäron se seuns wat by die tent werk, bring die graan na die offerplek toe daar voor die Here.
15 Die werker by die tent van ontmoeting vat ’n hand vol van die gemaalde graan saam met die olie en die geurige wierookstokkies wat daarop is. Hy verbrand alles op die altaar as die deel wat die hele offer verteenwoordig. Dit is ’n offer waarvan die Here baie hou.
16 Die deel van die offer wat dan oorbly, mag Aäron en sy seuns eet. Daar mag nie enige suurdeeg daarby kom nie. Dit word geëet daar by die voorhof van die tent waar die Here sy volk ontmoet.
17 Ook wanneer dit gebak word, mag daar nie suurdeeg bykom nie. Die Here staan hierdie deel van die offer aan die dienaars by die tent af as hulle deel van die offers. Dit is net so volledig uitgesonder vir die Here se diens soos die offers wat vir die sonde gebring word en die offers wat na die tent van die Here gebring word om vir die skuld voor God te betaal.
18 Al die mans uit Aäron se familie wat by die tent werk, mag daarvan eet. Dit is ’n reël oor die offers wat vir die Here met vuur verbrand word wat nooit mag verander oor al die geslagte wat kom en gaan nie. Elke persoon wat van hierdie offers eet, moet aan die diens van die Here toegewy wees.”
19 Die Here het verder ook vir Moses gesê:
20 “Aäron en elkeen na hom wat hom opvolg, moet vir die Here ’n offer bring op die dag wanneer hy in sy dienswerk aangestel word. Dit moet van twee kilogram fynmeel uit die graan wees. Die een helfte daarvan moet in die oggend vir die Here gebring word en die ander helfte teen die aand.
21 Dit moet met olie gemeng word, daarna op ’n plaat gebak en dan in krummels gebreek word. Dit is die soort offer waarvan die Here baie hou.
22 Aäron se seuns wat na hom aangestel word, moet dieselfde offers bring. Die Here het dit vasgestel en dit mag nie verander word nie. Die offer moet heeltemal verbrand word.
23 Elke offer uit die graan wat die dienaar vir die Here bring, moet heeltemal verbrand word. Daar mag ook niks daarvan geëet word nie.”
24 Die Here het ook nog verder vir Moses gesê
25 dat hy die volgende aanwysings vir Aäron en sy seuns moet gee vir offers wat vir oortredings gebring word: “Die offer vir oortredings moet op dieselfde plek gebring word waar die offers geslag en vir die Here verbrand word. Dit is spesiale offers wat net vir die Here gegee word.
26 Die dienaar wat die offer vir die sonde bring, mag wel daarvan eet. Hy moet dit in die binnehof van die tent van ontmoeting eet.
27 Elkeen wat met die vleis van die offer werk, moet in diens van die Here staan. As daar miskien van die offer se bloed op iemand se klere spat, moet hy die klere daar by die tent met water was.
28 As die vleis van die offer in ’n kleipot gaargemaak word, moet die pot daarna stukkend gebreek word. As dit in ’n koperpot gekook word, moet die pot daarna uitgeskuur word en met water uitgespoel word.
29 Al die mans wat by die tent werk, mag van die vleis eet. Dit is geheel en al afgesonder vir die dienswerk by die tent van die Here.
30 Niemand mag verder van die vleis van die dier eet as dit eers een maal in die tent van ontmoeting ingebring is om te vergoed vir die oortreding wat begaan is nie. Dit moet heeltemal met vuur verbrand word.”