1 Die Here het vir Moses gesê:
2 “Sê vir die Israeliete: Wanneer ’n vrou ’n baba verwag en ’n seun in die wêreld bring, mag sy vir ’n week lank nie by my tent kom nie. Dit is net soos wanneer sy menstrueer en haarself vir sewe dae eenkant moet hou.
3 Op die agtste dag moet die seuntjie besny word.
4 Daarna volg nog ’n verdere tyd van 33 dae. Totdat daardie tyd verby is, mag sy aan niks vat wat vir die Here eenkant gesit is nie. Sy mag ook nie na die tent toe gaan waar Ek aanbid word nie.
5 As dit ’n dogtertjie was, moet sy veertien dae lank nie tussen die ander mense kom nie. Die verdere tyd wat sy by die huis moet bly, is 66 dae.
6 Wanneer hierdie tyd van afsondering verby is, of dit vir ’n seun of vir ’n dogter is, gaan sy na die dienaar by die ingang van die tent van ontmoeting en gee vir hom ’n lam wat ’n jaar oud is om vir haar te offer op die altaar en ’n gewone duif of tortelduif om vir haar sonde te offer.
7 Hy offer dit dan voor die Here en maak haar weer aanvaarbaar vir God. Sy word dan weer tussen die ander mense toegelaat. Dit is die reël wat gevolg moet word wanneer ’n vrou ’n baba gehad het, of dit nou ’n seun of ’n dogter was.
8 As sy nie genoeg geld het vir ’n lam nie, mag sy twee duiwe of tortelduiwe gebruik, die een vir ’n offer wat op die altaar verbrand word en die ander een vir ’n offer wat sy vir die sondeskuld bring. Die werker by die Here se tent sal dit gebruik om haar posisie te herstel sodat sy weer tussen die ander mense opgeneem kan word.”