Levitikus 1 DB

1 Die Here was by die tent waar Hy sy volk ontmoet. Hy het Moses toe nader geroep en vir hom gesê:

2 “Jy moet met die Israeliete gaan praat. Sê vir hulle: Wanneer een van julle iets vir die Here bring, kan dit uit julle beeste of uit julle kleinvee kom.

3 “As dit uit die beeste kom en dit is bedoel om heeltemal verbrand te word, moet dit ’n manlike dier sonder enige liggaamsgebrek wees. Die persoon bring die dier na die ingang van die tent van ontmoeting toe. Hy bring dit vir die Here sodat die Here van hom kan hou.

4 Hy sit sy hand op die dier se kop. Daarmee wys hy dat dit sy geskenk vir God is wat vir hom vrede moet maak by God.

5 Hy sny dan die bul keelaf daar voor die Here. Die dienaars uit Aäron se familie vang die bul se bloed op en spat daarvan aan elke kant van die offerplek wat daar by die ingang van die tent staan.

6 Die persoon slag die vel van die offerdier af en hy sny die dier in stukke op.

7 Die dienaars uit Aäron se familie sorg dat daar ’n vuur op die altaar brand. Hulle hou dit aan die brand en pak elke keer weer hout op die vuur.

8 Hulle pak die stukke vleis wat die man opgesny het saam met die kop en niervet bo-op die hout op die altaar.

9 Die man was dan met water ook die binnegoed van die dier en sy pote af. Die dienaar vat dit alles en hy verbrand dit op die altaar. Dit word dan ’n brandoffer genoem. Alles van die dier word met vuur verbrand om die Here te plesier.

10 “As die dier wat hy vir die Here bring, uit sy vee kom, moet dit ’n ram wees sonder foute. Dit kan uit die skape of die bokke kom. Dit moet heeltemal met vuur verbrand word.

11 Die persoon sny dit keelaf daar voor die Here aan die linkerkant van die offerplek. Die dienaars uit Aäron se familie vat van die bloed van die ram en sprinkel dit reg rondom teen die kante van die offerplek.

12 Die persoon wat die dier gebring het, sny dit dan in stukke op. Die dienaar wat by die tent werk, pak die kop van die dier en sy niervet bo-op die hout wat op die altaar brand.

13 Die persoon was ook die dier se binnegoed en sy pote met water af. Die dienaars verbrand dit ook op die altaar. Dit bly alles op die altaar totdat dit weggebrand het. Dit word ’n vuuroffer genoem. Die Here hou baie daarvan wanneer dit vir Hom gebring word.

14 “As iemand vir die Here ’n voël bring om op die altaar te verbrand, kan dit ’n tortelduif of enige ander duif wees wat hy kom offer.

15 Die dienaar wat by die tent werk, bring die voël na die offerplek toe. Hy draai die duif se nek om. Hy verbrand dit op die altaar. Hy druk die bloed van die duif teen die kant van die offerplek uit.

16 Hy sny ook die krop en die ingewande van die duif uit. Hy gooi dit weg aan die regterkant van die offerplek waar die uitgebrande as en vet lê. Daarna skeur hy die voël aan sy vlerke oop sonder om dit heeltemal uitmekaar te skeur. Die persoon wat by die tent werk, verbrand dan die duif in die vuur op die altaar. Dit word ook beskou as ’n brandoffer, ’n vuuroffer, waarvan die Here baie hou.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27