21-22 Enigeen wat aan die bed raak waarop sy slaap of aan iets vat waarop sy gesit het, moet sy klere en homself gaan was. Hy mag self vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie.
23 Selfs al vat hy net aan iets wat op haar bed of haar stoel gelê het, mag hy nie naby die Here kom nie.
24 As ’n man gedurende haar maandstonde by haar slaap, affekteer dit hom ook en mag hy vir sewe dae nie naby die Here se tent kom nie. Selfs die bed waarop hy dan slaap, word ook onbruikbaar.
25 “As ’n vrou ongereeld is en buite haar gewone tyd menstrueer, of dit hou tydens die normale tyd buitengewoon lank aan, is sy vir hierdie tyd ook uitgesluit.
26 Soos tydens haar menstruasie is enige bed waarop sy lê en enige stoel waarop sy sit, in hierdie tyd ook onbruikbaar.
27 Enigeen wat daaraan vat, moet wegbly van die Here se tent. Hy moet sy klere en homself gaan was. Hy mag vir die res van daardie dag nie naby die Here kom nie.
28 “Sodra sy ophou bloei, moet sy sewe dae aftel. Daarna kan sy weer by God se tent kom.