16 Wanneer hy so maak, maak hy die deel agter die gordyn waar die Here is, en sommer ook die hele tent waar hulle die Here ontmoet, los van alles wat Israel verkeerd gedoen het en van al die sonde wat hulle teen die Here gedoen het.
17 Van die oomblik af dat Aäron in die Here se deel agter die gordyn ingegaan het om vir hulle vrede by God te maak totdat hy weer daar uitkom, mag niemand anders in die tent kom waar hulle die Here ontmoet nie.“Nadat hy vir homself, sy gesin en die hele Israel vrede gemaak het met die Here,
18 moet hy weer uitkom na die altaar toe en ook daar kom vrede maak. Hy vat van die bloed van die bul en van die bok en smeer daarvan reg rondom aan die horings van die altaar.
19 Hy moet ook met sy vinger sewe keer van die bloed teen die altaar sprinkel. So maak hy die altaar skoon van al die vuilheid van Israel se sonde en skoon vir die Here.
20 “Sodra Aäron die Here se spesiale deel agter die gordyn, asook die tent waar hulle die Here ontmoet en die altaar aan sy voorkant weer vir die Here afgesonder het, moet hy die bok wat nie geslag is nie, nader bring.
21 Hy sit albei sy hande op die bok se kop. Terwyl sy hande op die bok se kop is, moet hy alles bely wat Israel verkeerd gedoen het. Hy moet sê hoe moedswillig hulle is en hoe dikwels hulle nie doen wat die Here van hulle vra nie. Hy dra al hierdie verkeerde dinge op die bok oor. Iemand wat daar reg staan, moet dan die bok weglei die woestyn in.
22 Die bok dra dan al hulle oortredings weg na ’n plek waar daar nie mense is nie. Die man jaag die bok dan aan om nog dieper die woestyn in te gaan.