27 Die karkasse van die bul en die bok wat vir die sonde geslag is en waarvan die bloed in die afgesonderde deel agter die voorhangsel gebruik is om vrede te bring moet dan uit die kamp weggevat word. Dit moet met vel, vleis, binnegoed en al daar buite die kamp verbrand word.
28 Die persoon wat dit verbrand, moet na die tyd eers sy klere en homself was voordat hy weer in die kamp kan terugkom.
29 “Julle moet elke jaar op die tiende dag van die sewende maand ’n dag hê waarop julle niks eet nie. Julle moet op daardie dag julle gedagtes laat gaan oor al die dinge wat julle verkeerd gedoen het. Niemand van julle, selfs ook mense wat van ander plekke kom en by julle bly, mag op daardie dag werk nie.
30 Op daardie dag word daar vir julle sondes betaal. Julle word vrygemaak van al die skuld van julle sonde en daar kom weer vrede tussen julle en die Here.
31 Dit is ’n dag vir die Here waarop julle alles net so moet laat staan om te vas en julle voor God te verneder. Dit is ’n afspraak tussen julle en die Here wat vir elke jaar vas staan.
32 Die dienaar wat die Here daarvoor aangestel het en sy seuns wat hom later opvolg in die diens van die Here, moet elke jaar al hierdie dinge doen om vrede met die Here te maak. Hy moet vir dié geleentheid sy spesiale klere aantrek
33 en gaan vrede maak in die deel agter die gordyn wat vir die Here afgesonder is. Hy moet gaan vrede maak vir die hele tent waar die Here julle ontmoet en vir die altaar wat voor die tent staan. Hy moet ook vrede maak by die Here vir die mense wat by die tent werk en vir die hele volk.